Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Dorp in die Boesmanland " deur GEORGE WEIDEMAN
" Dorp in die Boesmanland " deur GEORGE WEIDEMAN [boodskap #64418] Ma, 01 Julie 2002 19:14
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

Dorp in die Boesmanland
George Weideman

Die dorp lê en slaap. Teen drie-uur
lê die huise
soos baksels brood in die maanlig;
'n skaduwee kry vorm
en 'n kat kom te voorskyn, gly behoedsaam
oor die straat, word in 'n skaduwee opgelos.

'n Hond skrik haarself orent en blaf
vertwyfeld; sug
en smelt weer saam met die stowwerige sak
waarop sy lê;
'n haan misreken hom kortstondig
en kraai Mauritius wakker.

'n Dowwe lig langs 'n deurkosyn
verraai 'n flikkerkers -
miskien het iemand koliek of tandpyn;
of dalk is dit die weduwee,
slaaploos
op soek na 'n penning of floryn.

Dan wals 'n windvlaag deur die dorp
en skud
die droë peule wakker: rinkel-rinkel tamboeryn,
die bome gesluierde buikdansers;
'n kleuter skreeu
in haar slaap, kort duskant zero-lyn.

Die dorp se duisend windpompe
raak oorstuurs
en draai 'n lied van droefnis en van pyn
die vlaktes oor.
Maar die dorp se kinders is vêr,
veels te vêr om die lied te hoor.

Weg is die wind. Woerts op pad
na die volgende plek.
Skaduwees bly skaduwees.
Onder die emaljewit maan
die dorpsheks
wat haar huise toerol in gesifte meel.
Vorige onderwerp: "Alzheimer" deur KOOT PIETERSE
Volgende onderwerp: " Chauvinistiese yunkyard" deur KOOS KOMBUIS
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Ma Mei 06 21:19:12 MGT 2024